About

Welkom by Harko Mulder se blog.

Ek het hierdie blog geskep met die volgende doelwitte:

  • Dit is ‘n forum waardeur ek die lering wat ek gee, beskikbaar wil maak, enersyds aan die persone wat deel is van die leringsgeleenthede waarby ek betrokke is, maar ook wyer aan ander wat daarby baat mag vind.
  • Ek het met verloop van tyd sekere onderwerpe in meer diepte bestudeer. Ek wil graag die resultaat van hierdie studies beskikbaar maak aan ander wat daarby baat mag vind, en ook om insette te ontvang van ander.

Wie is ek?

Ek is Harko Mulder. Ek is ‘n afgetrede chemiese ingenieur, wat die grootste deel van my profesionele loopbaan gewy het aan navorsing en ontwikkelingswerk in die sintetiese brandstof en chemiese industrie.

Ek het nie formele teologiese opleiding nie. Na my aftrede het ek die geleentheid benut om aan die Teologiese Skool van die NWU verskeie eksamens te skryf wat aan my die status van ‘n B-graad in teologie gee, alhoewel ‘n formele kwalifikasie nie toegeken word nie. Dit was vir my belangrik om hierdie eksamens af te lê as ‘n onafhanklike bewys dat ek behoorlike kennis van die Bybel het.

Ek het die voorreg gehad om in ‘n Christelike huis groot te word, en was my hele lewe aktief in die gemeentes waarvan ek deel was. Vir baie jare het ek die geleentheid gehad om ouderling te wees, Bybelstudies aan te bied, betrokke te wees by tronkbediening en periodiek in die gemeente te preek. Ek bedien weekliks ‘n groep Malawiërs in Sasolburg. Hulle is formeel deel van die CCAP gemeente in Johannesburg, maar kan nie weekliks deur die CCAP bedien word nie weens logistiese beperkings.

Ek is sedert 1985 getroud met Isabel. Ons het drie getroude seuns, en vyf kleinkinders.

Wat glo ek?

  • Ek is oortuig dat God wat Homself in die Bybel aan ons openbaar, die enigste ware God is.
  • Ek is oortuig die Bybel is God se gesagvolle, voldoende, akkurate en afgehandelde openbaring aan die mensdom.
  • Ek is oortuig mense van alle agtergronde kan van hulle sondes gered word deur geloof in Jesus Christus as hulle enigste Saligmaker.
  • Ek is oortuig gelowiges word geroep om heilig te leef tot God se eer
  • Ek is ‘n Christen wat oortuig is van die gereformeerde leer. Ek vereenselwig myself met belydenisskrifte soos die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis, Dortse Leerreëls en die Westminster Confession, alhoewel ek die Bybel as enigste gesagvolle dokument erken.
  • Ek is oortuig dat die doop van gelowiges en hulle kinders Bybels verantwoordelik is.
  • Ek is oortuig van ‘n idealistiese of amillenialistiese interpretasie van die eskatologiese gedeeltes in die Bybel.
  • Ek is oortuig God is die Skepper van hemel en aarde. Ek is egter ook oortuig dat die skepping oud is, en dat daar goeie harmonie is tussen wat die Bybel en wetenskap leer oor die ontstaan van die skepping en die mensdom.